Monday, December 3, 2018

repost from 23 october 2017

My kokkehaantjie kraai al van vroegvanoggend asook die gebede op die koppie so saam met die melodiëe om die Scottish Horse memorial is dit nie moontlik om verder te slaap nie. Ek staan op om al die diere kos te gee…die honde eet die wortels, die kokkehaantjie eet die hondekos, die parmantige haas Storm eet die saadjies, en Merlyn die kat eet die hondekos…ek sug net solank almal darem iets eet. Die kokkehaantjie en Storm is in ‘n ewige stryd vir wat kan ek nie uitwerk nie, maar hulle bestorm mekaar en gevegte breek gereeld uit. So die kokkehaantjie woon bedags op die balkon, waar hy aanvalle oefen op die chinese stoel, want ek het nog nie ‘n plan uitgedink hoe om te maak met hom nie. My ma se ek moet vir almal maaitjies kry. So anyone for a playdate or sleep over? 
Die week natuurlik met die #metoo campaign is baie dinge van ‘n mens se verlede vorentoe gedruk, en jy voel weer die hand van die skoolinspekteur op jou knie en hoe hy sy fingers stadig in die rondte vryf op jou binnebeen onder jou skooljurk in…dit net omdat ek science wou neem as ‘n vak. Ek moes spesiale toestemming kry. Dis in die skoolhoof se kantoor en die muur is gevul met swart en wit fotos van al die ou skoolhoofde wat met sulke streng oë na jou staar. Fast Forward toe ek ‘n huis wou koop en is toe na die FNB Randburg tak om aansoek te doen vir ‘n huislening…dieselfde man met dieselfde hand op my knie, die keer het ek ‘n lang romp aan tot op my enkels, mens leer gou dat ‘n skooljurk lengte rok net moeilikheid beteken…maar hy is nie gepla oor my swart lang romp nie, en hy sê, terwyl hy sy vet skurwe duime in my binne been druk, jy kan nog ‘n man kry, jy kan tog trou seersekerlik, so hoekom wil jy jou kop vol syfers druk…laat jou man dit doen…het toe by Perm ‘n huislening gekry.
Lank later in 2003 in Parys, lê ek en my jongste sussie op ‘n ¾ bed bo in die nokke van ‘n mooi gebou in die 5th arrondisement en gesels. Sy was toe alreeds in London na ‘n baie hartseer tyd in haar lewe, maar met ‘n wonderlike werksgeleentheid wat sy ten spyte van haar toe simple man aangeneem het (die dag voor sy vlieg het hy vir haar sê hy dink nie hy kom saam nie). Ek het haar by Gare du Nord stasie gekry en my weke se per diem gespaar om vir haar te gee, ‘n hele €200, want die Eurostar was €55, sodat sy saam met my by Sacre Coer kan sit op die trappe wyn drink en huil. Die gesprek die heel aand was oor selfvertroue en hoekom ons dink ons is te dood eenvoudig en moet altyd obedient wees. Ons voel altyd verplig om die regte ding te doen en terwyl ons baie duidelik ‘n persoonlike gesprek het, probeer ‘n man met ‘n groot snor ons die naglewe van Parys te wys. Ek is sommer kwaad en sê hom in Duits wat hy moet doen, dit werk altyd…en toe kom die storie uit van die oom met die snor in my ma se kombuis. Ek was 16 toe hy my tussen die yskas en kas waar die ketel opgestaan het probeer vasdruk met ‘n hygasem. Soos ‘n ordentlike meisie was ek besig om koffie en tee te maak vir die besoek, ‘n familie met 4 kinders bietjie jonger as ek en het met verstomming na hom gestaar. Dat hy jare later dit met my sussies ook in die kombuis wou doen! So ontdek ons ‘n storielyn van huisvriende van my ouers en skoolvriende …dit lê nou nog swaar op my skouers, ek was die oudste ek moes my sussies beskerm het. Daardie nag maak ons ‘n lys van all die gebeure en name en gee dit vir my ma, sy hou dit volgens haar as evidence in haar kluis tussen ons vlegsels toe ons die eerste keer ons hare laat sny het. Sy wag net vir een van die name om op haar stoep te kom staan, hulle sal nie hulle voete oor haar deurdrumpel sit nie. 
Ek bel my ma aangesien dit Saterdag is, ek is hartseer en wonder oor haar, ja sy het ook sulke ondervindings gehad, ek weet sy het my al baie vertel. Sy sê dat eers as mens ouer word dan val die legkaartstukke op die regte plek in en jy besef die realiteit. By die werk destyds by Sanlam in die typing pool, ‘n jong meisie van Bredasdorp, sy is oorgesien vir possisies, bevordering, want sy was te astrant of was dit te snipperig wat natuurlik oorerflik is. Maar soos ek vir haar sê, ek was so stupid, en vertrou mense nog steeds so maklik, en op skool alhoewel ek as ‘n aktivis uitgekryt is, (onthou nog John Stokes het opgetsaan in die klas en gesê teen 2020 gaan hy die president wees, en snipperig het gesê dan in 2020 skiet sy die president van hierdie land, want dis tyd vir ‘n vrouepresident) was ek baie onbewus van al dié sort van onderstrominge. 
My ma se opinie is vreeslik eenvoudig: Al die mans wat sulke dinge doen, molesteer, rape en gryp, wat kinders aanrand, vrouens verkrag, met meisies lol, die stories is net te verskriklik volgens haar, hulle moet aan hulle ‘goeters’ opgehang word in die middel van die dorp (met bloudraad sê my pa), sodat almal hulle kan erken en daar bly hang onderstebo of ek weet eintlik nie hoe nie tot hulle afval. Dit is die polisie se skuld dat hulle nie onmiddelik optree teen hierdie mans nie. Van wanneer af moet mans kans kry vir ‘n hofsaak en wie is die soort mense wat hulle in die hof verdedig, En daar trek sy los oor Kwezi, en dat Zuma ons president is, dis sy skuld, hy het so ‘n voorbeeld gestel, nou dink almal dis ‘n nasional sport waarmee jy kan wegkom met ‘n masjien gun. Dit kos alles net geld en wie moet dit betaal en dan gaan sit hulle lekker in die tronk as hulle ooit tronkstraf kry, met drie maaltye ‘n dag, kan studeer en het toegang tot die internet, en jy weet wat op die internet alles is. 
Dan vertel sy my die storie: ‘‘n dogtertjie in haar klas wat baie senuweeagtig was, altyd haar hande so inmekaar gevryf en gevryf, min gepraat. Die juffou het vir my ma aangesê om haar te help met engels en wiskunde en so ‘n bietjie op te pas, my ma was nogal vies aanvanklik, want dit het beteken sy het minder speeltyd gehad. Die dogtertjie het van die plaas afgekom elke dag, het nie ‘n ma gehad nie, net haar pa en 4 ouer broers. Sy het nie saam met hulle hoërskool toe gegaan nie. My ma sê: ‘eers baie jare later het ek besef wat aangegaan het, en ek is nou nog verskriklik jammer dat ek nie iets gedoen het. Ek sien nou nog haar hande vleg en vleg en draai en draai inmekaar.” 
En toe vaar sy met vernynigheid in Danny Jordaan in. Nie herhaalbaar wat sy met hom sal doen nie. Maar sy kan nie nou verder praat nie, sy moet die sous gaan klaar maak. My pa stem kwaad saam met haar in die agtergrond (oor die sous vir middagete) en dat Danny Jordaan‘n vieslike mens is! 
So ons dra nie net baie stories met ons saam nie ons dra ook die stories van ander saam met ons. Ons ma se stories, ons sussies se stories, ons vriendinne se stories, ons dogters se stories… Terwyl die geweenklaag voort gaan op die koppie en die kokkehaantjie ‘n nuwe aanval loots op die chinese stoel staan ek en luister en wonder. My hart is baie seer.

No comments:

Post a Comment