Monday, December 3, 2018

repost from 3 november 2017

Die Saterdag (28 October) is dit Hey! Hillbrow Lets Dlala en ek het vreeslik baie dinge om te doen, 40 kg bananas, 45 kg appels, 20 kg naartjies, 10 kg wortels, 10 kg perkes, 30 liter aanmaak koeldrank o.a…ek gee net regte kos vir kinders en ordentlke koeldrank, tot en met almal se verstomming in Hillbrow weier ek om gaskoeldranke chips vol msg en taai lekkers vir kinders te koop om te eet. Die murmereringe is ook net tydelik, want kinders eet as iemand anders eet dan wil hulle ook dieselfed hê. Kinders se gesigte word geverf en elke een kry ‘n mooi kostuum om aan te trek, die reuk van popcorn hang in die lug en die musiek note van die string ensemble vul die gemoedere met hoop. Elke kind kry ‘n vlag, van mooi kleure of gemaak van re-cycled material en JMPD ly die optog deur die strate na die Windybrow Arts Centre. Dis alles net so kleurvol.
Ek kom laataand Vrydag by die huis met ‘n kar vol bananas en weet dat ek nie my ma Saterdagoggend kan bel nie…terwyl ek almal kos gee (honde eet haaskos, haas eet hoenderkos, kat eet hondekos, haantjie eet my nuwe radishes in die groente tuin) kyk ek op na die koppie, dit lyk nes die liewe jesus geboorte storie prentjie van die kinderbybel…’n groot vuur en baie mense staan daarom en bid, net die donkie en skapies is missing. Verder het almal lang kledingstukke aan met lang stokke en selfs engel Gabriel is daar en die wind waai sy wit rok soos engele vlerke teen die inkblou aand. Ek bel my ma maar sy kan nie nou praat nie, want die vye kook nog en as sy nie met alle oë oppas nie dan kook dit oor en om daardie stroop van die vloer op te vee is so ‘n taai gemors. Ek ruik die vye, ek proe dit op my brood en die stroop drup teen my ken af, jy mors sal my ma sè, sy sal Sondag met my praat, en moet nie so baie dinge doen môre nie, steek die ander ook in die werk, jy hoef nie alles te doen, nee en ja en nee…en wees versigtig…
Ek bel Sondag oggend…hulle het al vroeg gebrekfis en gaan nou allerhande ander dinge doen…sy wil weet of die ander darem ook gister iets gedoen het, jaaa sê ek, ja-nee se sy ek weet maar dit maak nie saak nie was dit ‘n sukses…ja dit was die kinders en almal het baie vreugde gehad…en al die performances was baie amazing…maar soos altyd is ek verstom dat dit goedkoper is om 2 liter gaskoeldrank te koop, want melk kos R24.99. My ma sis en is sommer gou kwaad, coke en al daardie koeldranke het soveel suiker in en wat van die kinders se tande, soveel beter om melk te drink en gelyktydig sê ons altwee onthou jy vir Mornink.
Ek was net-net 2 jaar oud en ons het in ‘n klein vierkantige huis ingetrek. Dit was ‘n groot ding vir my ouers om ‘n huis en ‘n baba te kon bekostig. Nou nie eintlik asof ek hulle ‘n keuse gegee het nie. Ek het eenvoudig opgedaag. Die melk is soggens afgelewer, elke oggend het Mornink met ‘n battery aangedrewe kar gekom en dan het ons ‘n liter melk gekry. Vrydae het ons 2 liters melk gekry en lemoensap vir ontbyt, want hy het eers weer Maandag gekom. Ek was mal oor melk, nappertjies het ek dit genoem en Mornink was baie nice alhoewel my engels nie baie goed was nie. Gewoontlik het hy die melk bottels omgeruil op die stoep vir ander mense. Maar by ons huis het my ma elke aand sulke ronde blou of rooi disks in die leë bottels gesit en dan vroegoggend het ons dit vir Mornink geneem by die hek en omgeruil vir melk in glasbottels. Ek het soggens gewag vir die geluid van die wit en blou kar met kratte vol melk op wat so gerink-tink-tink het soos die kar gewieg het, of by die hek gewag. 
Die melk ritueel was deel van my lewe. Mornink se regte naam was Matthew, maar omdat hy altyd Morning Madam vir my ma gegroet het het ek besluit dat sy naam Mornink is. En ook het snipperig vir hom verduidelik dat my ma se naam is Mutti, nie Madam nie. Omdat my ma my klimeidjie genoem het, eintlik haar kleinmeidjie het Mornink ook so iets gesê behalwe sy tong het ‘n so ‘n mooi klik geluid gemaak. Ek het altyd opgekyk na my mooi ma en Mornink se gesprekke, ek onthou die son het net opgekom en dan was dit soos ‘n prentjie my ma lag en Mornink se iets oor my. As die trein onder in die straat vroeg soggens gekom het met haar toot-toot-toot het Mornink my aan die hand geneem en dan het ons na die trein gekyk ver onder in straat op die sypaadjie. Ek was so opgewonde oor die trein, eers kom die man aangehardloop in sy donker pak met ‘n hoed en ‘n rooi vlaggie, daardie rooi vlaggie was my begeerte, dan het die stoom trein gekom, so mooi het die stoom tsssuuu! geblaas in groot ronde sirkels soos donderweer wolke, haar naam was Jenny. Tussen melk aandra en trein kyk met die rooi vlaggie was ek in my element. 
Ek wou tog so graag ook ‘n melkbottel dra, maar my hande was te klein, maar partykeer het my ma vir my ‘n bottel gegee, een handjie onder en een handjie om die ronde nek net onder die silwer doppie en Mornink het dan saam gestap al bukkend met sy groot hand ook onder die melkbottel dan het ons kombuis toe geloop. Mornink se hande was baie groot, hy kon 4 bottles melk op ‘n slag dra, hy was na my pa en peetpa my hero. Dus een oogend wag ek vir Mornink by die hek, my ma is iewers in die huis besig en ek besluit om ook te help dra. Mornink gee vir my ’n bottel melk en draai om om die lemoensap en ander bottel melk te vat en toe ek omdra om huis toe te loop glip die bottle uit my hand en val op my voet.
My ma hardloop uit om my te troos daar is baie bloed en sy bel Onkel Dokter. Destyds het dokters huisbesoek gedoen en aangesien ek gevang is deur Dokter Bester was hy onmiddelik daar. Met baie bandages, medisyne en gips eindig ek op met ‘n groot voet in een van my pa se wolgebreide sokkies om alles bymekaar te hou. Ek mag vir ‘n week nie op die voet trap nie en ek mag nie met my pa se sokkies wat my ma gebrei het buite loop nie. Intussen daag my pa op en hy en Mornink staan in die kombuis en is in ‘n toestand. Hulle altwee eindig op in emergeny room met verbande, want hulle voete is baie seer. Die hele volgende week hinkepink altwee van hulle werk toe en terug, lewer melk af in ons straat en vertel vir almal van klimeidjie wat se voet baie seer is.
Maar omdat ek toe in die bed moes bly kon ek nie die trein sien nie en ook nie vir Mornink nie, koop my pa vir my die mooiste rooiste trein by die Ok Bazaars. Die trein het nes die stoom trein gelyk en het ook baie kool after in die bak gehad, en as jy die trein druk toot-toot-toot, soos Jenny. Mornink moes natuurlik die trein kom sien, ek het vir hom by die sitkamer se venster gewag. Ons twee het ook party oggende broodjies gekry as hy tyd gehad het, want hy het baie melk gehad om af te lewer… hy het appelkoos konfyt gekry en ek marmite en dan is die broodjie in vierkante gesny. Hy het sy tee gedrink en ek my nappertjies.
Later toe ons trek nader aan die spoorlyn, het ek my tand verloor, vir Mornink verloor, want mense het melk by die winkel gekoop en ek moes skool toe gaan. Styfgevlegte hare met groot rooi strikke, maar die trein was nou langs ons en dus kon ek in die bloekombome hang en wag vir die trein. Ek was groot en het nie meer my broodjies geëet met Mornink nie.

No comments:

Post a Comment