Monday, December 3, 2018

repost from 30 november 2017

Saterdagoggend is ek al vroeg wakker. Daar is stilte op die koppie, nie ‘n woord of geweenklaag nie. Net stilte. 
Ek wonder wat ek vandag alles wil doen, Net in die bed bly, koffie drink en dink. Toe onthou ek! nee, ek gaan De Deur toe ry en hoenders kry. Vlieg op en kry myself reg vir n reis na die anderkant van die wereld. Ek koop 3 hennetjies, en een angora haas. Hy is so oulik en die meisiekinders noem hom onmiddelik Jasper. Terug by die huis laat ons almal los in die tuin en hou die nuwelinge dop. Later toe dit begin reën moet ek die nuwelinge vang en onder skuiling bring. Diere wat op hok bly weet nie van kos soek, skuiling soek en vlieg nie. Die kokkehaantjie neem sy nuwe vriende glad nie onder sy vlerk nie en is so onverantwoordelik soos ‘n politikus. Solank hy kos kry, uit die reën is hy dood gelukkig. Nie ‘n goeie begin vir hierdie vriendskap nie. 
My ma bel om te hoor hoe dit met al die verhoudings gaan. Sy het heelwat raad oor my animal farm wat nie funksioneer nie en wil weet hoekom ek nie liewerste op ‘n plaas gaan bly nie. Ek verduidelik dat op hierdie stadium dit nie moontlik is nie weens droogte, finansies en dat ek nie van plan is om enige iets ooit te slag nie. Wel sê sy dit sal nie werk nie as jy nie wil slag nie, ek sê ek eet nie vleis nie. Sy gaan voort met ‘n effense skerp woord oor mense wat vol fiemies is, om te vertel dat twee van haar hennetjies nou in die boom sit en eiers lê. Daar is geen nes nie so die eiers val uit die boom reguit grond toe. Die honde sit onder die boom en wag vir hierdie lekkernye wat in hulle monde val. Service delivery noem sy dit. 
Teen Maandag sterf een hennetjie en die ander een is eintlik ‘n haantjie en nie ‘n hennetjie nie. My pa het heelwat te sê oor my onvermoë om mannetjie en wyfies uit te ken. Hoe kyk jy dan wil hy weet. Ek dink nie, ek kyk nie, ek hoor ook nie, soos ek sê: hierdie jaar moet net klaar kry. Ek soek rus en geen klagtes.

No comments:

Post a Comment