Monday, December 3, 2018

repost from10 november 2017

Vanoggend is dit net vrouens wat baie hard bid, die een vrou se stem klink al rou geweenklaag, sy staan ook eenkant met ‘n lang groen jas aan…’n stem wat ek lankal hoor, maar sy is of kwaad of baie ontsteld vanoggend…Die res van die wêreld is doodstil maar nie lekker nie, so asof in die nag ‘n deurmekaar spul gedagtes in my kop ingesak het.
Ek bel my ma, hulle het 0.5 mm reën gekry gister middag, en die skilpaaie is vrolik besig om die laaste bietjie gras op te vreet. Sy sê dis so asof hulle weet daar is geen weer water tot volgende jaar nie. My pa is by die seëlklub so sy is alleen en kan aan haar quilting werk en het ‘n baksel beskuit in die oond. Die stiksel van die een quilt vir ‘n vriendin se peetkind se baba het vreeslik getrek, sy gaan nou al 4 rye uittrek en weer oor stik, en ek weet hoe baie werk dit is en kan net my weereens verstom oor haar vemoë om deur te druk met die quilting werk. Die wortelslaai is ook reeds klaar vir middagete. Maar ten minste is die vye klaar gekook. Sy het 2 kg vye gekry so mooi gepak van klein tot groot spesiaal van die plaas af. Die groen draak op my skouer luister met ingehoue asem, want die vraag al vir die laaste 3 weke is oor wie vye kry en wie nie, want my boetie het nou na al die jare en dis 50 jare later besluit om ook vye konfyt te eet. Dit het altyd so mooi uitgewerk, die susters kry vye en hy eet appelkoos konfyt. Nou het hy ‘n midlife crisis en het die konfyt lyn oorgesteek. Soos die koninginby van Engeland eet hulle twee vye saam met baie fancy en verskriklike duur kaas. Vir my en my pa is dit amper soos hoogverraad, mens eet vye saam met varsgebakte brood in vierkante gesny en die die stroop moet so in poele om die broodjie lê. 
Toe ek skool toe moes ontdek ek dat die hele wêreld winkel wit broodjies kry wat in driehoeke gesy is in hulle lunchbokse, totaal vreemd vir my. Ander kinders het peanut butter met stroop of baie polony op hulle broodjies gekry. Ons het marmite of konfyt, weereens net my broer kry apelkooskonfyt ons het al die ander konfyt gekry en dan het ons chocalat sprinkles gekry, dit was baie lekker. So natuurlik kom ek huistoe en aan middagete tafel vertel snipperig vir my ma dat die ander kinders kry winkel brood in driehoekies gesny. Sy bly doodstil. En natuurlik wil ek weet hoekom ons bruin gebakte brood het in vierkante gesny. Sy sê ons is arm mense en ons moet eet wat daar te krye is. Ons kan nie uitsoekerig wees nie. 
Nadat ek nou begin maatjies maak by die skool, en nader aan die ander kinders se lunchbokse kom ontdek ek dat die ander kinders se driehoekbroodjies het nie korsies nie, maw die rante van die brood is afgesny en niemand het ooit ‘n korsie in hulle lunchbox nie. In ons huis reg van die begin af was broodkorsies die beste ooit en mens kon barter vir ander voorregte as jy die korsie in jou besitting gehad het. Weereens middagete by die huis vertel ek vir my ma die ontdekking. My ma is nou so stil soos Lot se vrou behalwe dat sy nog beweeg en vir my boetie kos in sy mond druk. Natuurlik is hier iets aan die gang, maar ek is salig onbewus, want my ma het altyd baie te sê oor alles veral oor hoe ander mense kos gebruik en of nie. Mens mag in ons huis nooit kos wegeggooi het nie want die kinders in Afrika is honger. Snipperig ontdek toe dat sy in Afrika woon (my pa se skuld want hy was besig om die atlas te lees vir ons op daardie stadium) en ek het gou hierdie mite in die weer gery, niks gehelp nie jy eet jou kos op of jy sit aan tafel totdat jy dit opeet. Ek was die queen van uithou vermoë, want daar is baie goed wat ek geweier het om te eet, ertjies, enige pap, word naar net van die reuk en peanutbutter, gril my morsdood dit sit aan jou verhemelte vas.
Later hoor ek murmererings dat die broodkorsies word afgesny, want swart mense bak brood en vat aan die brood, dis nou die brood winkel. Ek kan nie wag om by die huis te kom nie, want waar is hierdie soort van brood wat deur swart mense gebak word en waar gebeur dit alles, ek het nog nooit van so iets gehoor nie. Almal het ‘n huisbediendes, dis nou al die ryk mense en sy kook kos, kyk agter die kinders en kom self saam kuier om na die kinders te kyk by ons huis. 
Daardie middag kry ek my eerste les dat iewers in hierdie wêreld waarin ek bly is alles nie lekker nie. My ma probeer vir my verduidelik dat daar wette is en ons het nie keuses nie. Maar gaan sy voort sy dink dit is verskriklik dat mense so kos mors, (want die kinders in China is honger) dis net ryk mense wat so kan leef. En ek moet mooi verstaan dat ons is arm mense en ons deel ons kos met almal.

No comments:

Post a Comment