Saturday, December 21, 2019

Saterdag 21/12/2019

Dis Saterdag, ek hoef nie my ma te bel nie, want ek sit oorkant haar in die kombuis by die reeds uitgetrekte eetkamertafel. Nichola kom môre kuier, die tafel is reeds sedert Donderdag gereed vir die oudste kleinkind wat kom kuier. So ook het die menu vir die aandete reeds 11 keer verander. Go with the flow is al wat ek vir myself sê. Ons gesels terwyl sy konfyt kook. My suster die koningby het 'n hele bak pruime van 'n vriendin se tuin saamgebring. Dis baie mooi pruime en weeg presies 1 kilo dus het ons 1 kilo suiker nodig en 'n bietjie suurlemoen skil. Ek het Donderdag oggend daarin geslaag om 1 suurlemoen te kry by die spar sonder om 'n plastiek sakkie by te kry! Het met die prys van R 4,02 op my hand rondgeloop in die winkel agter my ma aan wat camenbert soek. Elke slag as sy na my hand kyk sê sy: 'dis darem baie duur vir een suurlemoen'.  Ek sê dis vir die gin en haloumi! Natuurlik later in die dag toe die koninginby vanaf haar vriendin terug kom was sy by Woolworths en het volgens my ma sommer die heel boomvol suurlemoene saamgebring. Wat moet sy nou maak met so baie suurlemoene, veral dis seisoentyd in die vallei en mens kan nie die suurlemoen weggooi nie want dit trek die vrugtevlieg aan. Dan is al die uitvoerdruiwe in hulle moer! Eintlik my pa se woord, maar aangesien hy nie daar is nie voel ek verplig om in te staan vir sy mooi woorde! Ek probeer die gesprek draai na die konfyt, want ek moet nou soveel leer as moontlik.

Dis 1 jaar en 7 maande. Ons tel nog steeds die maande af. So asof die merk van tyd sal help. Om bietjie die hartseer te verdoesel. Die suiker moet eers warm gemaak word voor mens dit by die reeds gekookte pruime sit. Ek help met roer en die tyd aftel. Ons sit bietjie konfyt in die vrieskas om te kyk of dit reg is na 24 minute se kook. Die vrieskas is vol, want as die koninginby kom is daar altyd te veel kos. Asook daar is nooit genoeg ys nie, 'want die Britte kan darem drink!': my ma se woorde.  'Ek vervies my so, want nou as ek die bottels uitsit vir die re-cycling dink almal seker ek drink so baie'. Terug by die konfyt, dis reg en die kleur is so mooi! Ek gaan stort en was hare, weens die water te kort was ons elke 2de dag en was hare elke 4de dag! En omdat ek gisteraand die braaier van vleis was ruik my hare soos vuur! Ek kom uit na presies 90 sekondes alles skoon vars en vrolik en die konfyt is al klaar gebottel. Dis nou eers agtuur in die oggend en die konfyt is reg. Dis darem beter as om te bel vanaf Johannesburg en dan te hoor van al die voortreflikhede in De Doorns. Die 3 bottels staan so mooi en die oggedlig val daadeur!




Toby maak die koninginby wakker en sy is weer in een van daardie buie waar alles volgens haar moet reg verloop en op tyd gebeur, Ek kry so 3 bevele en natuurlik vergeet ek van die helfte. Aangesien dit my kinders is wat kom moet ek beddens regmaak. Sy doen dit eintlik om ons aandag af te trek van al die bottels! Want wat my ma nie weet van al die bottels nie is dat ons dit wegsteek en dan moet ek soggens dit in die kar se boot laai sodat ons dit  stilletjies wegry na die recycling toe.  

No comments:

Post a Comment